Psalms


Hoofstuk 4

1 Vir die musiekleier; met snaarinstrumente. ‘n Psalm van Dawid. (4:2) As ek roep, verhoor my, o God van my geregtigheid! In benoudheid het U vir my ruimte gemaak; wees my genadig, en hoor my gebed!
2 (4:3) o Manne, hoe lank sal my eer tot skande wees? Hoe lank sal julle die nietigheid liefhê, die leuen soek? Sela.
3 (4:4) Weet tog dat die HERE vir Hom ‘n gunsgenoot afgesonder het; die HERE hoor as ek Hom aanroep.
4 (4:5) Sidder, en moenie sondig nie; spreek in julle hart op julle bed, en wees stil. Sela.
5 (4:6) Offer offerandes van geregtigheid en vertrou op die HERE.
6 (4:7) Baie sê: Wie sal ons die goeie laat sien? Verhef oor ons die lig van u aangesig, o HERE!
7 (4:8) Groter vreugde het U in my hart gegee as wanneer hulle koring en hulle mos oorvloedig is.
8 (4:9) Ek wil in vrede gaan lê en meteens aan die slaap raak; want U, o HERE, alleen laat my in veiligheid woon.