Johannes - John

Hoofstuk: 1 2 3 4 5 6 7 8 9 10 11 12 13 14 15 16 17 18 19 20 21


Hoofstuk 11

1 En daar was ‘n man siek, Lasarus van Betánië, die dorp van Maria en haar suster Martha.
2 En dit was Maria wat die Here gesalf het met salf en sy voete afgedroog het met haar hare, wie se broer, Lasarus, siek was.
3 Die susters het toe na Hom gestuur en gesê: Here, hy vir wie U liefhet, is siek.
4 En toe Jesus dit hoor, sê Hy: Hierdie siekte is nie tot die dood toe nie, maar tot die heerlikheid van God, sodat die Seun van God daardeur verheerlik kan word.
5 En Jesus het Martha en haar suster en Lasarus liefgehad.
6 En toe Hy hoor dat hy siek is, het Hy twee dae vertoef in die plek waar Hy was.
7 Eers daarna sê Hy aan die dissipels: Laat ons weer na Judéa gaan.
8 Die dissipels sê vir Hom: Rabbi, die Jode het onlangs probeer om U te stenig, en gaan U weer daarnatoe?
9 Jesus antwoord: Is daar nie twaalf ure in die dag nie? As iemand in die dag wandel, stamp hy hom nie, omdat hy die lig van hierdie wêreld sien.
10 Maar as iemand in die nag wandel, stamp hy hom, omdat die lig nie in hom is nie.
11 Dit het Hy gespreek; en daarna sê Hy vir hulle: Lasarus, ons vriend, slaap; maar Ek gaan om hom wakker te maak.
12 Sy dissipels sê toe: Here, as hy slaap, sal hy gesond word.
13 Maar Jesus het gespreek van sy dood, terwyl hulle gedink het dat Hy van die rus van die slaap spreek.
14 En toe sê Jesus vir hulle ronduit: Lasarus is dood.
15 En Ek is bly om julle ontwil dat Ek nie daar was nie, sodat julle kan glo. Maar laat ons na hom toe gaan.
16 En Thomas, wat Dídimus genoem word, sê vir sy mededissipels: Laat ons ook gaan om saam met Hom te sterwe.
17Toe Jesus dan gekom het, het Hy gevind dat hy al vier dae in die graf was.
18En Betánië was naby Jerusalem, omtrent twee myl daarvandaan.
19En baie van die Jode het al by Martha en Maria gekom om hulle oor hul broer te troos.
20En toe Martha hoor dat Jesus kom, het sy Hom tegemoetgegaan. Maar Maria het in die huis bly sit.
21En Martha sê vir Jesus: Here, as U hier gewees het, sou my broer nie gesterf het nie.
22Maar selfs nou weet ek dat alles wat U van God vra, God U sal gee.
23Jesus sê vir haar: Jou broer sal opstaan.
24Martha antwoord Hom: Ek weet dat hy sal opstaan in die opstanding in die laaste dag.
25Jesus sê vir haar: Ek is die opstanding en die lewe; wie in My glo, sal lewe al het hy ook gesterwe;
26en elkeen wat lewe en in My glo, sal nooit sterwe tot in ewigheid nie. Glo jy dit?
27Sy antwoord Hom: Ja, Here, ek glo dat U die Christus is, die Seun van God, wat in die wêreld sou kom.
28En nadat sy dit gesê het, gaan sy en roep Maria, haar suster, stilletjies en sê: Die Meester is hier en Hy roep jou.
29Sy het, toe sy dit hoor, vinnig opgestaan en na Hom toe gegaan.
30En Jesus het nog nie in die dorp gekom nie, maar was op die plek waar Martha Hom tegemoetgegaan het.
31En toe die Jode wat by haar in die huis was en haar getroos het, sien dat Maria vinnig opstaan en uitgaan, het hulle haar gevolg en gesê: Sy gaan na die graf om daar te ween.
32En toe Maria kom waar Jesus was en Hom sien, val sy aan sy voete neer en sê vir Hom: Here, as U hier gewees het, sou my broer nie gesterf het nie.
33Toe Jesus haar dan sien ween en die Jode wat saam met haar gekom het, ook sien ween, het Hy geweldig bewoë geword in sy gees en Hom ontstel
34en gesê: Waar het julle hom neergelê? Hulle sê vir Hom: Here, kom kyk.
35Jesus het geween.
36Die Jode sê toe: Kyk, hoe lief Hy hom gehad het!
37En sommige van hulle sê: Kon Hy wat die oë van die blinde man geopen het, nie maak dat hierdie man ook nie gesterf het nie?
38En Jesus het weer in Homself geweldig bewoë geword en by die graf gekom. En dit was ‘n spelonk, en ‘n steen het daarteen gelê.
39Jesus sê: Neem die steen weg. Martha, die suster van die oorledene, sê vir Hom: Here, hy ruik al, want hy is al vier dae dood.
40Jesus sê vir haar: Het Ek nie vir jou gesê, as jy glo, sal jy die heerlikheid van God sien nie?
41Hulle neem toe die steen weg waar die oorledene lê. En Jesus het sy oë opgeslaan en gesê: Vader, Ek dank U dat U My verhoor het;
42en Ek het geweet dat U My altyd verhoor, maar ter wille van die skare wat rondom staan, het Ek dit gesê, sodat hulle kan glo dat U My gestuur het.
43En nadat Hy dit gesê het, het Hy met ‘n groot stem geroep: Lasarus, kom uit!
44En die oorledene het uitgekom, aan hande en voete met grafdoeke gebind, en sy gesig was toegedraai met ‘n doek. Jesus sê vir hulle: Maak hom los en laat hom gaan.
45En baie van die Jode wat na Maria gekom het en aanskouers was van wat Jesus gedoen het, het in Hom geglo.
46Maar sommige van hulle het na die Fariseërs gegaan en hulle vertel wat Jesus gedoen het.
47En die owerpriesters en die Fariseërs het die Raad byeengeroep en gesê: Wat sal ons doen? —want hierdie man doen baie tekens.
48As ons Hom so laat begaan, sal almal in Hom glo; en die Romeine sal kom en ons land en ons nasie albei afneem.
49En een van hulle, Kájafas, wat daardie jaar hoëpriester was, sê vir hulle: Julle weet niks nie
50en dink nie daaraan dat dit vir ons voordelig is dat een man vir die volk sterwe en nie die hele nasie omkom nie.
51En dit het hy nie uit homself gesê nie; maar omdat hy daardie jaar hoëpriester was, het hy geprofeteer dat Jesus vir die volk sou sterwe.
52En nie alleen vir die volk nie, maar ook om die verstrooide kinders van God tot ‘n eenheid saam te voeg.
53Van dié dag af het hulle toe saam beraadslaag om Hom om die lewe te bring.
54Daarom het Jesus nie meer in die openbaar onder die Jode gewandel nie, maar daarvandaan weggegaan na die streek naby die woestyn, na ‘n stad met die naam van Efraim. En daar het Hy vertoef met sy dissipels.
55En die pasga van die Jode was naby; en baie het uit dié landstreek na Jerusalem opgegaan voor die pasga om hulle te reinig.
56En hulle het Jesus gesoek; en terwyl hulle in die tempel staan, sê hulle vir mekaar: Wat dink julle, sal Hy nie na die fees kom nie?
57En die owerpriesters en die Fariseërs het ook ‘n bevel gegee dat as iemand wis waar Hy was, hy dit moes bekend maak, sodat hulle Hom gevange kon neem.