Hebreërs - Hebrews

Hoofstuk: 1 2 3 4 5 6 7 8 9 10 11 12 13


Hoofstuk 11

1 Die geloof dan is ‘n vaste vertroue op die dinge wat ons hoop, ‘n bewys van die dinge wat ons nie sien nie.
2 Want daardeur het die mense van die ou tyd getuienis ontvang.
3 Deur die geloof verstaan ons dat die wêreld deur die woord van God toeberei is, sodat die dinge wat gesien word, nie ontstaan het uit sienlike dinge nie.
4 Deur die geloof het Abel ‘n beter offer aan God gebring as Kain, waardeur hy getuienis ontvang het dat hy regverdig was, omdat God oor sy gawes getuienis gegee het; en deur dieselfde geloof spreek hy nog nadat hy dood is.
5 Deur die geloof is Henog weggeneem om die dood nie te sien nie; en hy is nie gevind nie, omdat God hom weggeneem het; want voor sy wegneming het hy getuienis ontvang dat hy God behaag het.
6 En sonder geloof is dit onmoontlik om God te behaag; want hy wat tot God gaan, moet glo dat Hy is en ‘n beloner is van die wat Hom soek.
7 Deur die geloof het Noag, toe hy ‘n goddelike waarskuwing ontvang het aangaande wat nog nie gesien was nie, met eerbiedige vrees die ark gereed gemaak tot redding van sy huisgesin, waardeur hy die wêreld veroordeel het en ‘n erfgenaam geword het van die geregtigheid wat volgens die geloof is.
8 Deur die geloof het Abraham, toe hy geroep is, gehoorsaam weggetrek na die plek wat hy as ‘n erfenis sou ontvang; en hy het weggetrek sonder om te weet waar hy sou kom.
9 Deur die geloof het hy as vreemdeling gaan woon in die land van belofte soos in ‘n vreemde land en in tente gewoon met Isak en Jakob, die mede-erfgename van dieselfde belofte.
10 Want hy het die stad verwag wat fondamente het, waarvan God die boumeester en oprigter is.
11 Deur die geloof het Sara self ook krag ontvang om bevrug te word; en toe sy oor die leeftyd was, het sy gebaar, omdat sy Hom getrou geag het wat dit beloof het.
12 Daarom is daar ook gebore uit een vader, en dit ‘n verstorwene, kinders soos sterre van die hemel in menigte en soos die sand aan die strand van die see, wat ontelbaar is.
13 In die geloof het hulle almal gesterwe sonder om die beloftes te verkry, maar hulle het dit uit die verte gesien en geglo en begroet, en het bely dat hulle vreemdelinge en bywoners op aarde was.
14 Want die wat sulke dinge sê, verklaar dat hulle ‘n vaderland soek.
15 En as hulle bly dink het aan dié vaderland waaruit hulle weggetrek het, sou hulle geleentheid gehad het om terug te keer.
16 Maar nou verlang hulle na ‘n beter een, dit is ‘n hemelse. Daarom skaam God Hom nie vir hulle om hulle God genoem te word nie, want Hy het vir hulle ‘n stad berei.
17Deur die geloof het Abraham, toe hy op die proef gestel is, Isak geoffer; ja, hy wat die beloftes ontvang het, het sy eniggeborene geoffer,
18aan wie gesê is: In Isak sal jou nageslag genoem word—want hy het gereken dat God mag het om selfs uit die dode op te wek;
19daaruit het hy hom ook, om so te spreek, terug ontvang.
20Deur die geloof het Isak vir Jakob en Esau geseën met die oog op die toekoms.
21Deur die geloof het Jakob op sy sterfbed altwee die seuns van Josef geseën; en hy het aanbid terwyl hy leun op die knop van sy staf.
22Deur die geloof het Josef aan die einde van sy lewe melding gemaak van die uittog van die kinders van Israel en bevel gegee aangaande sy gebeente.
23Deur die geloof is Moses ná sy geboorte deur sy ouers drie maande lank weggesteek, omdat hulle gesien het dat die seuntjie mooi was; en hulle het nie die gebod van die koning gevrees nie.
24Deur die geloof het Moses, toe hy grootgeword het, geweier om die seun van Farao se dogter genoem te word,
25omdat hy verkies het om liewer sleg behandel te word saam met die volk van God as om ‘n tyd lank die genot van die sonde te hê,
26en die smaad van Christus groter rykdom geag het as die skatte van Egipte, want hy het uitgesien na die beloning.
27Deur die geloof het hy Egipte verlaat sonder om die toorn van die koning te vrees, want hy het volgehou soos een wat die Onsienlike sien.
28Deur die geloof het hy die pasga gehou en die besprenkeling van die bloed, sodat die verderwer hulle eersgeborenes nie sou aanraak nie.
29Deur die geloof het hulle die Rooi See deurgegaan soos oor droë grond, terwyl die Egiptenaars, toe hulle dit probeer, verdrink het.
30Deur die geloof het die mure van Jérigo geval nadat daar sewe dae lank omheen getrek was.
31Deur die geloof het Ragab, die hoer, nie saam met die ongehoorsames omgekom nie, omdat sy die spioene in vrede ontvang het.
32En wat sal ek nog meer sê? Want die tyd sal my ontbreek as ek van Gídeon, Barak en Simson en Jefta, Dawid en Samuel en die profete sou verhaal,
33wat deur die geloof koninkryke oorweldig het, geregtigheid uitgeoefen, beloftes verkry, bekke van leeus toegestop,
34die krag van vuur uitgeblus, die skerpte van die swaard ontvlug, krag uit swakheid ontvang het, dapper gewees het in die oorlog, leërs van vreemdes op die vlug gedryf het.
35Vroue het hulle dode deur opstanding teruggekry, en ander is gefolter en wou geen bevryding aanneem nie, om ‘n beter opstanding te kan verkry.
36Ander weer het die proef van bespottinge en geselinge deurstaan, ook van boeie en gevangenis.
37Hulle is gestenig, in stukke gesaag, versoek, deur die swaard vermoor. Hulle het rondgeloop in skaapvelle en in bokvelle; hulle het gebrek gely, hulle is verdruk, mishandel—
38die wêreld was hulle nie werd nie—hulle het in woestyne rondgedwaal en op berge en in spelonke en skeure in die grond.
39En alhoewel hulle almal deur die geloof getuienis ontvang het, het hulle die belofte nie verkry nie,
40omdat God iets beters oor ons beskik het, sodat hulle nie sonder ons volmaak sou word nie.